fbpx
Simoné Roets – OM ELKE HOEK EN DRAAI

Simoné Roets – OM ELKE HOEK EN DRAAI

Simoné Roets verduidelik met haar nuwe enkelsnit (OM ELKE HOEK EN DRAAI) dat “Verhoudings oor ’n afstand is soms bittersoet. Aan die eenkant is daar die avontuur en groei wat gebeur wanneer jy ver is van alles wat vir jou bekend is. Dít saam met die kort kuiers wat baie spesiaal is juis omdat jy weet julle het min tyd saam.”

Aan die anderkant die ‘bitter’ – om die groot en klein oomblikke van mekaar te mis en ook om te groet na elke kuier,” sê die sanger en liedjieskrywer, Simoné Roets, oor die inspirasie agter haar nuutste enkelsnit.

OM ELKE HOEK EN DRAAI lê haar baie na aan die hart, omdat sy en haar ma dit saam geskryf het. Dit gaan oor families of geliefdes wat ver van mekaar af bly, en daardie oomblikke van verlange wanneer ’n mens nie fisies bymekaar kan wees nie.

Hierdie hartroerende kontemporêre lied is deur Jattie de Beer van Artistry Productions vervaardig en sal jou, net soos haar vorige vrystellings, hoendervleis gee elke keer wanneer jy dit hoor.

Volgens die musikant, wat onlangs teruggekeer het na Suid-Afrika nadat sy lank oorsee gewoon het, sal dié snit aanklank vind by ’n wye gehoor: “Ons storie is ook baie ander mense se storie, so ek glo luisteraars sal kan vereenselwig met die liedjie.”

’n Treffende musiekvideo van die snit is ook pas vrygestel. Adi van der Walt het die video, wat bestaan uit ’n emosiebelaaide kombinasie van persoonlike selfoonvideo’s en tonele wat in die ateljee vasgevang is, vervaardig.

“Die video vertel ons storie en wys iets van my verhouding met my gesin oor die laaste vyf jaar: die duisende Facetime-oproepe, stemnotas, asook die kort kuiers saam. Ek wou dit ’n bietjie meer persoonlik maak, sodat mense iets kan sien van myself as mens en kunstenaar,” verduidelik sy.

OM ELKE HOEK EN DRAAI volg in die voetspore van Dans in die Donker en Ongerep (saam met Joshua na die Reën) wat baie goed ontvang is en gereeld oor die radio gehoor kan word.

Simoné het in Nelspruit groot geword en het eers op universiteit haar passie vir musiek ontdek. Sedertdien het sy ’n kortspeelplaat en verskeie ander Engelse liedjies uitgereik en was sy ook betrokke by die Hillsong City Campus in Brisbane, Australië, waar sy vir lank gewoon het.

Sy is baie opgewonde om terug te wees in haar geboorteland en is tans besig om haar eerste Afrikaanse album, wat binnekort beskikbaar sal wees, te finaliseer.

OM ELKE HOEK EN DRAAI sal diegene bemoedig wat verlang wanneer hulle ver van hulle geliefdes af is.

Dit nou beskikbaar op alle digitale platforms. Laai dit hier af: https://linktr.ee/simoneroets

SOSIALE MEDIA

Instagram, Facebook, YouTube

LEES MEER

Simoné Roets keer terug na S.A.