Nuwe fliek ondersoek die band tussen ouer en kind in ‘n post-pandemiese era!

Nuwe fliek ondersoek die band tussen ouer en kind in ‘n post-pandemiese era!

Die tydlose verhaal van ’n ouer, wat heeltemal toegewy is aan ’n kind, is een waarmee almal kan vereenselwig. Regisseur, Casey Affleck, se LIGHT OF MY LIFE, is ’n narratiewe rolprent wat afspeel in tydperk nadat ’n plaag amper almal in die wêreld uitgewis het.

Dit is gebaseer op die Oscar-bekroonde akteur se eie draaiboek, wat drama vermeng met die storie van ’n kind en ouer se reis na genesing.

Affleck verduidelik die betekenis agter die fliek as volg: “Dit is ’n baie persoonlike film vir my. Ek het hierdie verhaal ’n dekade gelede begin skryf. Soos wat my kinders ouer geword het, het my ervaring van ouer wees ook verander. Die storie wat ek vertel het, het verander.

Na ’n egskeiding het die verhaal sy finale vorm aangeneem. Buiten vir al die wetenskapfiksie, is hierdie ’n storie van ’n enkelouer wat treur oor die verlies van ’n kernfamilie.”

Die film speel af op ’n spoggerige, verlate landskap, waar ’n pa en dogter in ’n tent woon en in die woud kos moet soek om te oorleef. Om hulle veilig te probeer hou, vermy die liefdevolle pa (Affleck) kontak met ander mense en leer hy sy 11-jarige dogter, wat op een of ander manier immuun is teen die ‘vroulike plaag’, oor etiek, geskiedenis, moraliteit en hoe om van die land af te leef.

Maar ’n toevallige ontmoeting bedreig dié voorsorgmaatreëls wat hy opgestel het, en plaas die toevlug wat hy geskep het, in gevaar. In ’n wêreld wat nou net deur mans bevolk is, probeer hy desperaat om sy dogter Rag (nuweling Anna Pniowsky) te beskerm, terwyl hy terselfdertyd probeer om die jong vrou wat sy word, te eer en te bemagtig. Hy word ook deur middel van terugflitse daaraan herinner hoe versot haar ma (Elisabeth Moss) op haar was.

Ter wille van haar veiligheid, en omdat dit onmoontlik is om tussen goeie en slegte mans te onderskei, sny hy haar hare af en moet sy mansklere dra en vermy hulle dorpe en stede sover as wat hulle kan.

Die verhouding tussen pa en dogter is die hartklop van LIGHT OF MY LIFE en die besonderse band tussen Affleck en Pniowsky word veral weerspieël deur die tonele wanneer hulle alleen is en in die aand in hulle oranje tent gesels.

Die binnekant van die tent, wat verlig word met klein lampies, beklemtoon die intimiteit en verhouding wat hulle het. Daar is opregte toegeneentheid en empatie vir mekaar, en ’n gedeelde liefde vir verhale oor die wêreld soos dit was en soos wat hulle dit graag wil hê.

Affleck vertolk sy rol uitstekend. As jy hom oor sy toneelspel uitvra, verklap hy dat dit baie belangrik was dat hy die opregte band tussen ouer en kind moes voel, ten einde sy karakter met oortuiging te kon vertolk.

“Die eerste aspek wat ek wou vind, was die geloofwaardige dinamiek van die ouerskapsituasie, want dit is nie ’n liefdesverhouding wat voor-die-handliggend is nie. Wanneer jou kind iets gevaarlik doen, is jy bekommerd oor hulle en daarom is jou liefde op daardie oomblik in ’n ander fase.

Daar is ’n paar oomblikke in die film wanneer die pa sy humeur verloor met sy dogter, en ek wou hê dat die tonele reg moes wees, sodat dit die boodskap duidelik kon oordra dat hierdie twee mense op ’n realistiese manier vir mekaar omgee,” sê hy.

“Dit was ook belangrik om beide kante van my karakter te balanseer. Aan die een kant, is Pa vol selfvertroue dat hy in staat is om vir Rag te sorg, haar te beskerm en haar groot te maak. Hy is egter ook eensaam en voel baie keer paniekerig. Om alles in een karakter te verweef op die grootskerm, was baie interessant.”

Hy het ook ’n minimalistiese benadering agter die kamera, wat ondersteun word deur die kinematograaf, Adam Arkapaw, wat daarin slaag om ’n reeks skote te verfilm wat selfs die slegste omstandighede op die een of ander manier mooi te laat lyk.

Sy kleurpalet van grys, wit en bruin word beheer, en die landskappe vibreer van dreigement, in skrille kontras met hulle skoonheid. Daniel Hart se musiek is hartseer en onheilspellend. Saam verseker al hierdie elemente dat daar ’n rustige gevoel van genade en menslikheid is wat deurskyn in LIGHT OF MY LIFE.

Net soos wat die pa dit bykans onmoontlik vind om die wêreld aan sy dogter te verklaar, kan die fliek ook nie heeltemal alles aan die kyker verduidelik nie. Namate die mensdom besig is om in duie te stort, groei die skaduwee van angs in die werklike lewe, en die rolprent werk die ergste vrese van mense, veral ouers, oral in.

“Ek wens dat ek die krediet daarvoor kon neem dat dit my bedoeling was om kommentaar te lewer op die situasie in die wêreld, maar eintlik was dit glad nie die idee toe ek die rolprent gemaak het nie,” sê Affleck. “Dit is egter een van die redes hoekom en so baie van die kunste hou, omdat dit ons in staat stel om op ’n indirekte manier wel sekere kwessies aan te spreek.

Alhoewel hierdie dinge hulle weg in die fliek in gevind het, wou ek ’n storie skep daaroor om balans te vind tussen om die wêreld uit te hou en die wêreld in te laat, jou kinders te beskerm en hulle te laat gaan, en hulle te beskerm terwyl hulle voorberei om hulself te beskerm.”

LIGHT OF MY LIFE is in sy kern ’n portret van ’n pa en sy dogter en wat hy sal doen om haar veilig te hou. Dit is ’n pragtige dramatiese riller, wat kommentaar lewer oor ouerliefde in gebroke tye en die onstabiliteit van die samelewing. Dit dra ook die aangrypende boodskap dat jy die een of ander tyd moet laat gaan.

LIGHT OF MY LIFE word versprei deur Filmfinity (Edms) Bpk. en sal by plaaslike bioskope begin draai op 18 Oktober 2019.

SOSIALEMEDIA

Vir meer inligting oor LIGHT OF MY LIFE, insluitend die amptelike lokprent, hou ons Facebook blad dop en gebruik die hutsmerk #LightOfMyLifeFilm_SA om oor die fliek te gesels.

INTERNASIONALE SKAKEL

Facebook

PUBLISITEIT EN BEMARKING

Starburst Promosies
Alishia van Deventer
Sel: 083 635 4717
E-pos: [email protected]
www.starburstmusic.co.za

Leave a Reply