fbpx
Lee Scott terug met nuwe enkelsnit – VRY!

Lee Scott terug met nuwe enkelsnit – VRY!

Lee Scott is ’n naam wat oor die afgelope veertien jaar diep in die harte van Suid-Afrikaanse musiekliefhebbers kom nesskrop het. Daarom is aanhangers in rep en roer oor die vrystelling van sy splinternuwe enkelsnit, VRY, wat net weereens bewys hoekom hy al vir soveel jare sy passie – met soveel sukses – in die kollig kan uitleef.

VRY is ’n inspirerende popsnit met ’n lekkerluister-ritme, wat saam met Hugo Ludik en Vaughan Gardiner van Muse Productions geskryf is, en daarop fokus om luisteraars te laat glimlag.

VRY is geskryf met die idee dat elke mens uit die kompleksiteit van alledaagse realiteit kan ontsnap deur te dagdroom, verduidelik die sanger. “Daar is baie mense daar buite wat met angs en depressie leef.

Omdat ek self sukkel met angs, wou ek ’n liedjie skep wat my herinner dat die lewe nie altyd perfek of kompleks hoef te wees nie. Dat ons moet vashou aan eenvoudiger tye en dat dit oukei is om oukei te wees.

Tyd is kosbaar en daarom moet jy probeer om elke sekonde te laat tel.”

https://open.spotify.com/track/38VenUmbsA5d2dMLh05QYb?si=k_lx-TfZQM6JNSNB-thjfQ

Volgens die kunstenaar, wil hy graag hê dat hierdie betekenisvolle snit gehore moet laat goed voel wanneer hulle dit hoor en hulle moet laat wegstap met moed vir die toekoms.

“Daar is soveel druk daar buite om te presteer en jouself met ander te vergelyk, terwyl hierdie liedjie jou aanmoedig om eerder net jouself te wees,” sê hy.

“Omdat ek glo dat die publiek die boodskap agter die lirieke sal verstaan, dink ek dat dit ’n groot impak kan hê… maar net tyd sal leer.”

In 2017 het die musiekvideo van Lee se enkelsnit, Perfekte Vreemdeling, opslae gemaak toe dit as wenner aangewys is van kykNET se musiekvideo-projek en soos ’n veldbrand op sosiale media versprei het.

Dit is daarom geen verrassing dat VRY ook eersdaags met sy eie indrukwekkende video gaan spog nie.  Dié video word eksklusief op 16 September om 12h00 op kykNET NOU se sosiale media bekendgestel.

Buiten vir twee suksesvolle albums (Die Enigste Manier en Vir Ewig), talle radiotreffers as solo-kunstenaar en lid van Hi-5, SAMA- en Huisgenoot Tempo-benoemings vir Beste Pop-album en optredes by van die land se grootste feeste, is dié veelsydige ster ook ’n gesoute akteur (Drukkersbloed) en televisieaanbieder (Sêr en Bravo op kykNET en drie seisoene van Kliphard op SABC 2).

Hy het ook al in verskeie teaterproduksies opgetree, soos Abba Magic SA, Reik na die Sterre – The Musical en was ook deel van Jennifer Rush se Suid-Afrikaanse toergeselskap in 2015.

“Tot dusver was om die Australiaanse Volkslied te sing voor die wedstryd tussen die Springbokke en Australië op Nelson Mandela Bay Stadium in 2018, en om by die RMB Starlight Classics in Johannesburg op te tree vanjaar van die grootste hoogtepunte van my loopbaan sover,” sê die musikant.

Volgens die sanger, is hy met musiek in sy are gebore en is dit waar sy passie lê. Hy het professioneel begin sing toe hy agtien was en het vir drie maande Musiekteater studeer aan Technikon van Pretoria, maar moes opskop omdat ’n wonderlike geleentheid oor sy pad gekom het.

Sy eerlikheid en ongekompliseerde lewensuitkyk, maak hom baie gewild onder sy mede-kunstenaars en het sedertdien vir hom baie deure oopgemaak.

Hy beskryf sy eie musiekstyl as kontemporêre pop, met ’n knippie R&B, en hy glo dat jy by elke kunstenaar na wie se musiek jy luister iets kan leer om jou eie werk te verbeter.

Oomblikke en herinneringe inspireer hom om musiek te skryf en sekere liedjies te sing en hy sou baie graag nog eendag saam met groot name soos Adele, Ed Sheeran en Michael Bublé wil werk. 

Wanneer hy nie op die verhoog of voor die kamera is nie, is dié Pretorianer ’n stemafrigter wat dit geniet om sy kennis met opkomende sangers te deel en hulle aan te moedig om net hulle self te wees. 

VRY bou voort op die sukses van die kenmerkende styl musiek waarvoor Lee Scott bekendheid verwerf het.

Die lied bevat die perfekte kombinasie van goedvoel-lirieke en ’n aanloklike deuntjie, wat sy stem nie net op sy beste laat vertoon nie, maar luisteraars ook uitnooi om die lewe te geniet.

Die enkelsnit is nou op alle digitale platforms beskikbaar hier:

Volg Lee Scott op sosiale media hier:

Facebook, Twitter, Instagram, YouTube

Besprekings:

Co-Productions   
Corné Oosthuizen
012 751 3601
[email protected]

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui