fbpx
Nuwe fliek oor Fox-Skandaal beloof ’n BOMBSHELL

Nuwe fliek oor Fox-Skandaal beloof ’n BOMBSHELL

Elke beroep het sy vereistes en opofferings, maar wat is die prys wat jy (as ’n vrou) moet betaal wanneer jy genoeg moed bymekaarskraap om ’n baie invloedryke man in die publiek aan te vat?

BOMBSHELL, deur die bekroonde regisseur Jay Roach en die draaiboekskrywer Charles Randolph, vertel die opspraakwekkende verhaal van die vroue wat dit reggekry het om een van die grootste en mees invloedryke mediareuse op sy knieë te dwing.

Die rolprent is gebaseer op die ware gebeure wat gelei het tot die Fox News-skandaal, waartydens verskeie vroue die voormalige uitvoerende hoof van Fox News – Roger Ailes – beskuldig het van seksuele teistering.

Alhoewel die drama ’n werkplek uitbeeld waarin vroue gereeld afgetakel word oor hulle voorkoms en ongewenste seksuele kommentaar deur manlike bestuurders moet hanteer, fokus dit spesifiek op Ailes se slagoffers en hulle stryd om hom aan die kaak te stel.

Dit volg die verhale van veral twee vroue – Gretchen Carlson (puik vertolk deur Nicole Kidman) en Megyn Kelly (gespeel deur ’n byna onherkenbare Charlize Theron). In 2016 het Carlson Ailes gedagvaar vir seksuele teistering wat daartoe gelei het dat meer vroue, insluitend Kelly, met verdere aantygings teen hom vorendag gekom het.

Margot Robbie is op haar beurt te sien in die rol van Kayla – ’n jong vervaardiger wat ’n toekoms agter die kamera wil hê. Hoewel haar karakter fiktief is, meen die rolprentmakers dat sy geïnspireer is deur die verhale van verskeie regte vroue wie se ervarings met die filmspan gedeel is.

Volgens die Los Angeles Times is die hoofkarakters ‘morele komplekse heldinne, wat kykers verras in hulle pogings om die regte ding te doen’. Theron se uitbeelding van Kelly weerspreek egter die tradisionele verwagtinge van filmheldinne.

Theron, wat juis bekend is vir haar vermoë om ingewikkelde karakters te vertolk, was nog nooit regtig gepla daaroor of sy ’n heldin speel of nie. “Ek stel belang in karakters wat kompleks is en foute maak. Vroue doen nie altyd die regte ding nie. Hierdie idee van hoe ’n slagoffer of misbruiker lyk, is nie swart en wit nie – dit is ongelooflik grys. Dit is wat my aangetrek het tot die rol.”

John Lithgow speel Ailes teenoor die baie sterk vroulike rolverdeling. Hy sê: “Dit gaan oor die vroue. Daar is soveel om te sê en belangrike stories om te deel. Dit is miskien een van die beste flieks ooit, want dit gaan regtig oor ses of sewe uiters verskillende vroue wat verskillende ervarings en reaksies op die krisis by Fox het. Ek speel die krisis.”

Die res van die sterbelaaide rolverdeling sluit Connie Britton as Beth Ailes, Allison Janney as Ailes se prokureur Susan Estrich, Kate McKinnon as nog ’n Fox News-werknemer, Nazanin Boniadi as die voormalige Fox News-korrespondent Rudi Bakhtiar, Malcolm McDowell as Fox se uitvoerende hoof Rupert Murdoch, Mark Duplass as Kelly se man, Douglas Brunt, en Alice Eve as Fox & Friends se mede-aanbieder Ainsley Earhardt in.

BOMBSHELL, verfilm in ’n waarnemende dokumentêre styl verfilm, is aangrypend en aktueel. Kritici prys die film nie net vir die hantering van ’n moeilike onderwerp en ingewikkelde verhaal nie, maar ook vir die draaiboek en uitmuntende regie.

“Ons is tans in ’n baie intense era wat nie gou gaan afkoel nie,” voeg Theron by. “Daar is wel veiligheid in ’n groep en ek dink dit is juis hoekom hierdie fliek so ’n groot impak en belangrike boodskap het.” 

Die rolprent is baie goed deur kritici ontvang en is reeds benoem vir verskeie toekennings, waaronder Beste Kontemporêre Grimering in ’n Vollengte SpeelfilmBeste Spesiale-effekte Grimering in ’n Vollengte Speelfilm en Beste Kontemporêre Haarstilering in ’n Vollengte Speelfilm deur die sewende jaarlikse Make-Up Artists & Hair Stylists Guild (MUAHS), waarvan die toekenningsgeleentheid op 11 Januarie 2020 plaasvind.

Dit is ook genomineer vir ’n Humanitas-prys in die Beste Vollengte Dramarolprent-afdeling, waarvan die wenner tydens die vyf-en-veertigste Humanitas-seremonie – op 24 Januarie 2020 by The Beverly Hilton – aangekondig sal word.

Hierdie nie-winsgewende organisasie eer en bemagtig rolprent- en televisiedraaiboekskrywers wie se werk die menslike natuur op so ’n manier ondersoek en ten toon stel, dat dit mense nader aan mekaar bring.  

Verder is Charlize Theron benoem in die Beste Aktrise-afdeling en Kazu Hiro, Anne Morgan en Vivian Baker in die Beste Hare- en Grimering-afdeling van die Hollywood Critics Association (LAOFCS). Die derde jaarlikse LAOFCS-toekenningsseremonie vind op 9 Januarie 2020 plaas by die Taglyan-kompleks in Los Angeles.

BOMBSHELL word versprei deur Filmfinity (Edms) Bpk. en sal by plaaslike bioskope begin draai op 24 Januarie 2020.

INTERNASIONALE SKAKELS
Facebook, Twitter, Instagram