DROOM, die eerste enkelsnit vanaf Michael Heyns se nuwe album

DROOM, die eerste enkelsnit vanaf Michael Heyns se nuwe album

DROOM, asook die volledige album TUSSEN HIER EN DIE KAAP, is nou op alle digitale platforms beskikbaar.

Die feit dat hierdie song gekies is as die eerste enkelsnit van die album, is vir my amper profeties, want hierdie vrystelling is die verwesenliking van ’n droom wat ek vir baie jare saam met my dra

Foto: Facebook

Die liedjie begin met die woorde: ‘Ek sien ’n lig daar op die horison wat skyn’, en alhoewel die woorde gerig is op ’n liefdesverhouding, beteken dit vir my veel meer

Vir my is dit ’n metafoor van hoop. Hoop dat jou drome waar sal word. Hoop om te weet dat die uitdagings en onsekerhede van die lewe deel is van die reis.

Hoop dat jy geseënd sal wees om geliefdes rondom jou te hê wat hierdie reis saam met jou sal meemaak.  

My gunstelingwoorde van hierdie liedjie is: ‘graveer jou naam hier op my hart.’ Om iets te graveer is permanent. Dit is iets wat nie ongedaan gemaak of uitgevee kan word nie.

Op my ouderdom het ek die goeie en die slegte van die lewe beleef en ek is baie geseënd om ’n hele paar mense te hê wie se name op my hart gegraveer is. My pragtige twee kinders, my kleinkinders, vriende en vriendinne.”

Die oorheersende tema van die album is liefde, hartseer en als wat tussen dit kan gebeur. Almal van ons het terugslae, gebroke harte en liefde ervaar.

Hierdie album sal die luisteraar deur ’n verskeidenheid emosies neem rondom die tema van liefde en vriendskap. Die musiek is geskryf en verwerk deur Harold Schenk. Debuutskrywer Angelique Schickerling het daarin geslaag om die emosie van elke komposisie opreg en sonder pretensie in Afrikaans te verwoord.

Michael se ouers was baie lief vir musiek en het hom reeds van ’n baie jong ouderdom af blootgestel aan die kontemporêre musiek van daardie tyd.

Hy het van vroeg af ’n talent getoon vir sing. Skoolkonserte, talentkompetisies, kerkgeleenthede en Eisteddfods het sy kinderjare gevul.

Hy het selfs op hoërskool as gas aan ’n baie bekende SAUK TV-program, Kraaines, aangebied deur Carike Keuzenkamp, deelgeneem. As jong man het hy sy eie orkes gestig waarin hy die kitaarspeler en sanger was. 

Die Suid-Afrikaanse musiekbedryf het in daardie jare  bestaan uit orkeste wat bespreek was om die verskeie sangers te begelei.

Backtracks het nie bestaan nie en hy was gelukkig om in vele van die orkeste as kitaarspeler te speel en sing. So het hy die land platgetoer en die verhoog gedeel met vele bekende sangers en sangeresse van daardie era.

Alhoewel hy dit baie geniet het, het hy hom ernstig begin toespits op sy loopbaan in die finansiële sektor en moes hy sy musiekdrome vir eers bêre.

Sy passie vir musiek het altyd diep in sy hart gebrand en ’n paar jaar gelede het hy besluit om sy droom te verwesenlik.

Hy het aangeklop by sangeres en steminstrukteur, Amanda Luyt en sy het hom voorgestel aan musiekregisseur, Harold Schenk. Harold was onder andere verantwoordelik vir produksies van Coleske, Coenie de Villiers, Andre Swiegers en Danie Niehaus. 

Saam het hulle begin werk aan ’n projek en so het sy droom uiteindelik gestalte gekry. 

Michael is gebore en het grootgeword in Witbank. Hy het B.Com deur UNISA studeer en gegradueer as rekenmeester. Na ’n paar jaar in die beroep, het hy sy eie onderneming in die finansiële sektor begin.

Sport het ’n groot rol in sy lewe gespeel en met sy passie vir liggaamsbou het hy Springbokkleure en die titel as Mnr Suid-Afrika verwerf. Hy spog met ’n swart gordel in Taekwondo en het gehelp om sy seun af te rig om sy provinsiale kleure as welter-gewig bokser te verwerf.

Michael is ook ’n opgeleide kommersiële vlieënier.

Vir Michael het liggaamsbou, vegkuns, vliegkuns en boks die filosofie van  uithouvermoë, dissipline en volharding in gemeen. Hierdie filosofie het hom gehelp in alle aspekte van sy lewe en hy skryf die suksesse wat hy behaal het daaraan toe.

Hy glo dat ’n mens met hierdie filosofie enigiets kan bereik, maak nie saak hoe oud jy is, of wat jou tekortkominge is nie.

Op persoonlike vlak sien hy homself as iemand wat presies weet wat hy wil hê en altyd streef na perfeksie. Hy is ’n passievolle persoon en leef volgens die ‘alles of niks’-mentaliteit.

Hy hou van spoed en het ’n swakheid vir mooi motors en motorfietse. Michael is ook ’n natuurmens en heg groot waarde aan opregtheid, vriendelikheid, deernis en sterk familiebande.

SOSIALE MEDIA:

Facebook