fbpx
Oggendkuier saam met Len Muller

Oggendkuier saam met Len Muller

len muller oorgenoeg

Ons het onlangs gesels met Len Muller oor sy nuwe album, OORGENOEG, die dinge wat hom inspireer en hoe hy en sy vrou gereedmaak vir die kleinding wat op pad is.

Lees graag hier oor wat hierdie talentvolle musikant te sê het.

Elke album wat jy uitbring toon groei van jou as kunstenaar – luisteraars kan agterkom dat jy met elke nuwe album jouself druk vir iets nuuts.  Wat is jou proses om seker te maak jy daag jou grense uit? 

Moenie onderskat watse groot verskil ‘n goeie vervaardiger maak om jou te help grense skuif en die beste uit jou gawes te kry nie. Ek maak seker ek werk saam met van die beste vervaardigers in die land om ook by hulle aan te hou leer.

Jou lirieke dra `n sterk religieuse ondertoon – is daar vir jou `n verband tussen jou geloof en hoe jy liefde verstaan? 

Vir seker! AL my musiek is aanbidding aan my Skepper. God is liefde en daarom juig ons harte.

Wat was die groot inspirasie vir jou album OORGENOEG?

My geloof, my vrou en die see.

Jou enkelsnit HARTKLOP is anders as jou ander werk, vertel ons meer van die kreatieweproses agter die snit. 

HARTKLOP is hoofsaaklik my vervaardiger Gideon Botes se idee. Hy het die basiese struktuur aanmekaargesit en my net een dag gegee om die lirieke te skryf. Ons wou graag iets anders probeer wat nog nie in Afrikaans gedoen is nie.

Jy het die voorreg gehad om TOEVLUG saam met Stella te skep, vertel ons meer van julle samewerking. 

Dit was iets wat ons nog altyd saam wou doen sedert ons na skool ontmoet het as deel van die diensjaar groep C-Kruis. Ek glo ‘n lied is soos ‘n saadjie en toe ek die idee vir TOEVLUG die eerste keer vir haar speel het ek dadelik geweet dit word in goeie grond geplant.

Hoeveel liedjies het jy al geskryf wat jy gevoel het is `n flop? 

Daar is seker meer as `n 100 wat iewers in ‘n folder lê…

Is daar interessante projekte waarna aanhangers kan uitsien? 

Ja, vir seker! Ek werk aan ‘n paar aanbiddings liedere en gesange wat ek graag regstreeks wil opneem en vrystel later dié jaar.

Musiek soos grond is een van die projekte waarby jy tans betrokke is, vertel ons meer van die groep. 

MSG is ‘n visie van my goeie vriend Jacques (Joshua na die reën) wat ‘n paar vriende genader het om saam musiek te maak. Ons wil ook graag ‘n platform skep vir ander onafhanklike kunstenaars wat met ons harte resoneer.

As jy op enige plek in die wêreld kon optree, waar sou dit wees? 

Nederland

Watter persone het jou musiek die meeste beïnvloed? 

So baie mense. Mede-skrywers, vervaardigers, my vrou en familie.

Jy en jou vrou betree `n nuwe fase in jul lewe, hoe berei julle julself voor vir die taak van ouerskap? 

Ons is besig om my vorige studio en spaar kamer te omskep in ‘n babakamer. Ek skuif motor huis toe. Verder probeer ons maar werk en spaar vir doeke. Ons geniet ook nog ons slaap en alleentyd terwyl ons kan.

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram

LEES MEER

Len Muller se nuwe album is OORGENOEG

Len Muller ft Stella, ‘n TOEVLUG vir almal!

‘n HEILDRONK op Len Muller se nuwe musiekvideo!