fbpx
One Voice sê vir eers, “Totsiens”

One Voice sê vir eers, “Totsiens”

Na die suksesvolle bekendstelling van die damesgroep ONE VOICE aan die Suid-Afrikaanse musiekmark, sê die groep vir eers “totsiens”. Dié musiekgroep, ONE VOICE, het gehore uit die staanspoor beïndruk en oor die afgelope twee jaar vir hulleself ’n stewige aanhang in die Suid-Afrikaanse musiekmark kom vestig.

One Voice
Foto: Liam Enslin

Kalinka Kilian, Carla Strauss, Karma Coetzer en Janke Bester het sedert 2018 aanhangers bederf met hulle indrukwekkende verwerkings van bestaande treffers, soos SUCKER en SECRET LOVE SONG, en baie knap oorspronklike snitte, soos DROOMPLANEET en WAKE UP wat deur Lientjie Sothman geskryf is, wat plaaslik en internasionaal goed presteer het en steeds op die radio gehoor kan word.

Nie net is hulle musiek deur verskeie radiostasies regoor die land gespeel nie, maar dit was ook vir verskeie weke nommer een-treffers op Lekker FM en Hosa Radio, én het vir ’n hele ruk op die treffersparades van stasies soos SFM, IFM en Bosveld Stereo gepronk.

Aanlyn is hulle liedjies deur 49 lande gestroom; insluitend Suid-Afrika, VSA, Australië, Mongolië, Namibië, Japan, Meksiko, Denemarke, Filippyne, Duitsland, Swede, Verenigde Koninkryke, Nieu-Seeland, Brasilië, Ecuador, Switzerland, Portugal, Indië, Malaysië, Kanada, Suid-Korea en Ierland, waarvan die meeste stromings plaaslik en in Amerika plaasgevind het.

Verskeie gedrukte- en aanlynmediaplatforms het verder ook oor hulle musiek berig, waarvan die internasionale platform, Broadway.com een was.

ONE VOICE se energieke optredes, unieke klank en pragtige verwerkings het van die begin af aanklank gevind by oud en jonk en vir hulle optredes losgeslaan by verskeie funksies en venues regoor die land.

Maar soos die gesegde lui, kom alle goeie ding op ’n stadium tot ’n einde en omdat ONE VOICE oorspronklik net as ’n twee jaar projek beplan is en Covid-19 baie van hulle planne gekniehalter het, het die meisies besluit om vir eers hierdie suksesvolle hoofstuk van hulle lewens vaarwel te roep.

ONE VOICE was net ’n korttermynprojek, maar dit het baie beter gegaan as wat ons verwag het. As vier voltydse studente, het dit begin moeilik raak om te prioritiseer en moes ons elkeen heroorweeg wat ons doelwitte is,” verduidelik die meisies. “As gevolg van grendeltyd kon niks van ons beplande geleenthede en optredes realiseer nie. Dit het ons so ver teruggesit dat dit vir ons moeilik was om ’n praktiese manier te sien hoe ons weer verder kon aangaan.”

“Ons musiek bly op alle digitale platforms, so wanneer julle aan ons dink is daar altyd ietsie om na toe terug te gaan. Hou ook ons elkeen se solo-loopbane dop, want hierdie is verseker nie die einde nie.”

As jy hulle uitvra oor hulle toekomsplanne, verklap hulle dat hulle studies nou voorkeur kry. “Ek gaan dinge tree-vir-tree vat en wil fokus op my eie musiek loopbaan terwyl ek my studies klaarmaak. Ek gaan aanhou om te skryf en liedjies vry te stel, soos wat ek my vaardighede verbeter,” sê Carla, terwyl Kalinka beaam dat sy ook nog nie klaar is met musiek nie: “Ek gaan my studies voltooi en wil graag nog ’n ander kursus of twee doen. Ek gaan voortgaan om te skryf en te sing en het reeds ’n nuwe liedjie vrygestel, waarvoor ons nou ’n video gaan opneem.”

Beide Karma en Janke wil graag hulle gawes en kwalifikasies, as arbeidsterapeut en ontwerper, aanwend om ’n verskil te maak in mense se lewens en beplan om ook steeds hulle musiekdrome lewendig te hou. “Na ek my studies voltooi het, wil ek graag my gawes en talente te gebruik om ’n impak op ander mense se lewens te maak,” sê Karma. “My plan is om myself voortdurend in beide my sang en professionele ontwerploopbaan te verbeter. My lewensdoel is om ’n verskil te maak en dit is iets waarna ek elke dag sal streef,” voeg Janke by.

Om totsiens te sê is nooit maklik nie, maar ONE VOICE is baie dankbaar vir die ongelooflike span professionele mense wat hulle agter-die-skerms gehelp het om hulle drome waar te maak en vir elke aanhanger wat hulle op hierdie ongelooflike reis ondersteun het.

“Ons wil net baie dankie sê vir ons ouers, vriende, Starburst Promotions, McCrea Media, Michelle van Naturallymibeauty, Lientjie Sothman, Ettienne D Lane en almal wat betrokke was se moeite en ondersteuning. Sonder julle, sou ons nie gekom het tot waar ons het nie,” deel die vier. “Sonder aanhangers en luisteraars se ondersteuning, sou ons nooit ons verhoogdrome kon waar maak nie en ons wil julle almal bedank vir ons ongelooflike herinneringe van die afgelope twee jaar.”

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook, Instagram

Webblad: www.onevoice.co.za

LEES MEER:

One Voice sing WAKE UP!

One Voice slaan wéér asems weg met gewilde Jonas Brothers-treffer!

One Voice slaan asems weg met nuwe musiekvideo.

Nuwe meisiegroep deel hulle eerste musiek met die land!