fbpx
Rita Li – PERDEKRAG

Rita Li – PERDEKRAG

PERDEKRAG is ʼn komiese Afrikaanse popliedjie reg uit die blondekop-sangeres en aktrise Rita Li se kraal en maak die vergelyking tussen spiere en maniere!

Rita Li se nuwe tong-in-die-kies-somertreffer is geskryf deur Hugo Ludik en Nicholas Jordaan en vergelyk die PERDEKRAG van die immergewilde Datsun-bakkie met ʼn hedendaagse, enig-in-sy-soort Ford.

“ʼn Paar sterk manne en natuurlik ʼn blinkvosperd of twee. Jy sien, ek het by my Mamma aangeklop vir raad oor die lewe en keuses wat ek sou moes maak en sy het voorgestel dat ek vir ‘PERDEKRAG’ moet soek,” verduidelik Rita Li die lekker-lag lirieke van die liedjie.

Rita Li is ’n plaasmeisie wat goed perdry en die term PERDEKRAG is glad nie onbekend aan haar nie. Sy verklap haar eie eerste voertuig was ʼn bakkie. “Nie ʼn studentemotortjie soos meeste meisies nie!”

PERDEKRAG is ʼn sokkietreffer wat luisteraars sal laat saam sing, saam dans en ligte oomblikke deel.

Die musiekvideo speel af by die Inanda Country and Polo Club in Sandton, Johannesburg. Die akteurs sluit in Rita Li, Tannie Matie van Graan en selfs ʼn paar gespierde polo-perde.

Tannie Matie vertolk die rol van ‘n kenner op die gebied van PERDEKRAG en beoordeel al die fasette van spiertier tot dier noukeurig wanneer die video tonele afspeel.

“Die video is beslis ʼn eerste in sy soort, want ek ken nie ʼn ander kunstenaar wat kan polo speel én sing op ʼn perd se rug nie,” verklap Rita Li. 

Eric Graham van Eric Graham Produksies en Tehan Buys het die video vervaardig. Steven Stewart en Dirk Uys is die bekwame polo-spelers. Die pragtige Nicola Mulock Houwer en Janique Sebastian maak seker die manne bult hulle spiere!

Meer oor die kunstenaar:

Rita Li se loopbaan het die afgelope drie jaar van krag tot krag gegaan. Met die enkelsnitte Jakkalsdans en Hartland wat haar aanhangers gaande gehad het, en twee Afri-Indie-musiektoekennings agter haar naam, is Rita Li besig om ʼn stewige curriculum vitae op te bou.

Sy het onlangs haar debuut op die planke in die musiekblyspel, Die Kaplyn, gemaak. Die Kaplyn is vervaardig deur die befaamde liedjieskrywer en vervaardiger Johan Vorster, in samewerking met Jannes Erasmus en Jacomien de Wet.

Rita Li is vereer met twee Afri-Indie-musiektoekennings vir beste medewerkende enkelsnit vir die liedjie Sewende Hemel saam met Dewald Wasserfall, asook vir beste algehele popalbum vir “Roekeloos Verlief”.

“Roekeloos Verlief” is ook verlede jaar benoem vir ‘n gesogte South African Music Award (SAMA) in die kategorie vir beste popalbum. Rita Li is ʼn gekwalifiseerde sportfisioterapeut wat oorspronklik van Clocolan in die Oos-Vrystaat afkomstig is. Hoewel sy al byna twee dekades deeltyds besig is met musiek, het sy eers in 2019 besluit om voltyds te woeker in die musiekbedryf.

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram, TikTok

LEES MEER

Rita Li – Jakkalsdans

Rita Li – HARTLAND

Rita Li – LUGBALLON