fbpx
“VEG OF VLUG”, vra Nadia Vorster in nuutste enkelsnit

“VEG OF VLUG”, vra Nadia Vorster in nuutste enkelsnit

VEG OF VLUG is die eerste liedjie waarvan Nadia Vorster die lirieke self geskryf het. Met dié splinternuwe enkelsnit en musiekvideo, wat laasweek uitgereik was, glo sy dat luisteraars hulself ook sal vereenselwig met die alewige gejaag in ons lewens waaroor sy sing.

Die konsep van dié liedjie is tydens ’n besoek aan New York gebore toe ek die Charging Bullbeeld naby Wall Street gesien het. Die mensdom lyk ook so – altyd reg om te storm en geld na te jaag,” het sy vertel.

Dis toe hul terug is in Suid-Afrika en haar man op ’n sakereis was, dat die res van die liedjie tot lewe gekom het. Sy het laataand wakker geword en nostalgies aan ’n tyd teruggegedink waar hul niks gehad het nie – wel mekaar, dinge was eenvoudiger en sakereise het haar nie alleen gelaat nie. “Die boodskap van VEG OF VLUG kom uit my hart uit. Ek glo dat dit nie deel van God se plan is dat ons as gesinne so verby mekaar jaag en verdruk moet word deur finansiële laste nie,” het sy verduidelik.

Natuurlik moet ons hard werk om ons inkomstes te verdien en as huweliksmaats moet ons mekaar bystaan en aanvul, maar ons moet altyd seker maak daar is ’n gesonde balans en dít is die boodskap wat ek met dié liedjie wil oordra,” het sy bygevoeg. “Daar is ’n verskil tussen harde werk en die wanbalans van ’n valse verantwoordelikheid en ’n mens moet leer om tussen dié twee te kan onderskei. Dan kan jy besluit of jy moet veg of vlug,” het sy gesê.

Kyk die video hier:

In die musiekvideo, wat deur AVC Studios by L’aquila Country Estate verfilm is, kan die wipplank van emosies op Nadia se gesig gesien word terwyl sy die boodskap deel. VEG OF VLUG dra wel ’n diep boodskap oor, maar dis ’n lekker saamsing liedjie met ’n vinnige tempo wat die luisteraar sal opbeur. Nadia se eerste album, Sin Maak, is in 2018 uitgereik en sy is tans hard aan die werk aan haar tweede album waarvan die eerste enkelsnit, Geanker in Hoop, verlede jaar vrygestel is.

VEG OF VLUG is die tweede enkelsnit op dié nuwe album wat binnekort op die rak sal wees. Sy het ook onlangs op haar sosiale media die groot nuus gebreek dat Riana Nel, een van haar rolmodelle, vir haar gaan skryf. Aanhangers kan ook uitsien na ’n duet tussen Nadia en haar dogter, Alba, wat binnekort uitgereik sal word.

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook, Instagram, Twitter