fbpx
Victor Bravo gesels oor hul nuwe musiekvideo

Victor Bravo gesels oor hul nuwe musiekvideo

Die wêreld het die afgelope paar jaar donker tye beleef waarin dit moeilik was om positief te bly. Tye waarin geliefdes gesterf het, huwelike verbrokkel het, werke en inkomstes verloor is en baie mense lus was om op te gee. Met genade van bo, het die meeste van ons heel aan die ander kant uitgekom en dit is dié liefde en genade wat die gewilde duo, Victor Bravo, se nuutste enkelsnit geïnspireer het.   

SOLANK DIE LIEFDE BLY is ’n alternatiewe snit uit dié groep, wat bestaan uit Weco van Basten (sanger en liedjieskrywer) en Jopie Pienaar (hoofkitaarspeler), se eie arsenaal oorspronklike musiek.

Dit is vervaardig deur Renier Henning Music en sluit die klanke van die bekende dromspeler, Bruce Wallace, en baskitaarspeler, Janes Blomerus, in.

“Ek het op ’n dag met my kitaar gesit en dink oor die storms en hartseer wat so rondom ons woed, en ek het gewonder wat van ons gaan word,” deel Weco. “Ek het mismoedig gevoel, maar het in daardie oomblik besef dat ek nie alleen is nie. Dat solank ons kan saamstaan en kan lief bly vir mekaar, alles sal fine wees.”

Volgens Jopie is hierdie liedjie nader aan die klank en styl wat hulle oorspronklik vir die groep in gedagte gehad het en is dit anders as hulle vorige vrystelling omdat dit gemik is op diegene wat van dieper musiek hou. “Dit bied agtergrondmusiek wat maklik is om na te luister, met ernstiger lirieke wat jou aanmoedig om aandagtig te sit en luister,” sê hy.

Die musiekvideo, wat die boodskap van die snit perfek vasvang, is ook nou beskikbaar. Dit is deur Gerduan Kemp van Gerduan Kemp Photo & Film verfilm by Sowaar Bar en Sowaar Studios, asook by ’n splinternuwe Airbnb in Villieria, Pretoria.

In die video sing die hoofkarakter (Weco) alleen by ’n kroeg, terwyl die res van sy orkeslede (Jopie, Janes en Jean West) ook elkeen in afsondering by hulle eie huise musiek maak. Soos wat die liedjie opbou, sluit hulle egter een-vir-een by hom aan op die verhoog totdat hulle uiteindelik weer almal saam speel en ’n groot vertoning hou.

“Die video versinnebeeld die idee van hoe alleen en afgesonder ons op ’n stadium was. In daardie tye het dit swaar gegaan, omdat ons mekaar nie kon ondersteun nie,” verduidelik Weco. “Soos wat dinge weer begin terugkeer het na normaal, het dit begin beter gaan en kon ons weer bymekaar uitkom. Solank ons mense het wat vir ons omgee, is daar altyd hoop.”

SOLANK DIE LIEFDE BLY is hulle vierde vrystelling en volg in die suksesvolle voetspore van hul vorige enkelsnit, Suiderkruis, wat in 2020 uitgereik is en aangewys is as Beste kontemporêre enkelsnit by die onlangse Afri-Indie Onafhanklike Kunstenaartoekennings.

SOLANK DIE LIEFDE BLY word op 5 Augustus 2022 vrygestel op IFM en die video op 6 Augustus 2022 op Maroela Media.

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram

LEES MEER

Victor Bravo, vier hul kultuur met SUIDERKRUIS.

Victro Bravo, oor.

Victor Bravo stel tweede enkelsnit vry voor Aardklop.