fbpx

William Wolf se album, LIEFDE GEMAAK, raak die siel

William Wolf het pas sy die eerste enkelsnit, LIEFDE GEMAAK, ook die titelsnit van sy nuwe album, vrygestel. Aanhangers kan uitsien na nog diep, emosievolle lirieke deur dié talentvolle sanger en liedjieskrywer.

Met lirieke soos “Een sagte glimlag toe ek jou oë sien; Twee hande wat perongeluk raak; Drie sou een te veel wees aan hierdie tafel; Vier is nie ’n nommer nie; Dis wat ek vir jou wil maak,” vertel Wolf die storie van liefde.

William Wolf

“My oor is altyd fyn ingestel op slim woorde en sinne,” het Wolf vertel. Volgens hom skryf hy alewig notas op sy foon en die liedjieskryf proses raak maklik as mens ’n sterk tema het.

“Vandaar skryf die liedjies op ’n manier hulself met my lewensuitkyk en ervaringe wat die lirieke vul soos wat die skryfproses ontvou,” het hy verduidelik.

Na bykans 18 jaar in die musiekindustrie en talle treffersnitte wat hy vir top kunstenaars geskryf het, het Wolf al verskeie hoogtepunte wat hy kan afmerk. Dit was juis ’n nommer een liedjie op 5FM se ranglys wat hom laat besluit het om ook in Afrikaans te skryf.

Die sukses het gevolg met ’n nommer 1 liedjie op Jacaranda FM asook ’n SAMA-nominasie in 2003. In nog ’n interessante samewerking kan aanhangers die rymkletster YOMA en Wolf saam geniet in Soekhart. YOMA is in 2018 ook bekroon met ’n Ghoema-toekenning.

Aanhangers kan ook uitsien na ’n samewerking tussen Wolf en Lize Beekman in hul duet, Brief Uit Die Boland, met hul stemme wat bekoor en hartsnare aanroer.

Die musiekvideo vir LIEFDE GEMAAK, word eerskomende Vrydag saam met Maroela Media vrygestel. Hiermee tesame sal die Droomdag-kompetisie op sy sosiale media afskop.

Met dié kompetisie, wat vanjaar vir die tweede keer plaasvind, maak Wolf ’n opkomende kunstenaar se drome waar. Die wenner ontvang ’n prys ter waarde van meer as R75 000 wat insluit:

  • ’n unieke liedjie geskryf deur William Wolf
  • die opname en vervaardiging van die liedjie
  • ’n musiekvideo en
  • ’n volle publisiteitspakket wat die omslagontwerp asook bemarking op die enkelsnit insluit.

Enige kunstenaar kan hiervoor inskryf, met meer besonderhede op William Wolf se Facebook-blad.

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook, Instagram