fbpx
PJ Pretorius sing Tony Nilsson-treffer

PJ Pretorius sing Tony Nilsson-treffer

Nadat die The Voice SA-ster PJ Pretorius, die land uitgeboul het met sy debuut-enkelsnit 12 uit 10, is dié sanger terug met ’n herverwerking van Tony Nilsson en Ola Svensson se Sweedse-treffer Natalie. Dié snit, wat deur Tony Nilsson geskryf en oorspronlik in 2006 opgeneem is, is ’n popliedjie en vertel die storie van Natalie en watter impak sy op mense se lewens gehad het.

PJ Pretorius – Natalie

 “Vir my is die storie of inspirasie agter die liedjie die feit dat die vrou so ’n groot impak gemaak het op die man se lewe en dat hy sulke sterk gevoelens vir haar ontwikkel het en hy wil eintlik maar net weet hoe sy oor hom voel,” vertel PJ.

PJ sê dat die enkelsnit ’n goeie aanduiding is van wat luisteraars van die res van sy opkomende debuut-album kan verwag. “Ek dink en hoop dat die publiek dit sal geniet,” voeg die sanger by. “Die groot boodskap handel oor die liefde en die impak wat ons as mens in mekaar se lewens maak en die realiteit daarvan wat maak dat mense aanklank daarby vind.”

https://open.spotify.com/track/4gZKdJqkOEl4WzJDDMHuHQ?si=Y2lfYCwBR4WPfEPOLvCi_Q

Die sanger wil hê dat sy musiek ’n gevoel van nostalgie en of rustigheid en tevredenheid oor die luisteraar moet bring.  

PJ se vlam vir musiek is 2013 aangesteek toe hy as bedieningsleier in die kerk begin sing het. Hy’t homself geleer om kitaar, dromme en klavier te speel en dis eers in 2016 wat hy musiek volltyds aangepak het – vandag ’n volle vier jaar.

Hy sal graag saam met Elvis Blue iets wil aanpak en vertel: “Elvis Blue is ongelooflik talentvol en bly altyd so nederig, ek sal baie graag saam met hom wil werk.”

Volgens PJ is kunstenaars ’n vreemde spesie wanneer dit by idees vir musiek kom. “God is maar altyd vir my liefde en die res, kom maar soos dit kom. Dit begin gewoonlik met een koord,” verduidelik hy.

Indien musiek nie vir hom beskore was nie sou hy graag ’n sjef wou word. “Ek geniet dit om kos te maak en om met verskillende smaak kombinasies te speel,” verklap hy.

Hy som sy stem op as ryk, diep, passievol en emosievol en vertel dat hy vrek bang is vir motte. Vra jy hom egter uit oor wat die musiekbedryf hom geleer het, antwoord hy: “Daar is nie ’n vinnige manier tot sukses nie. Dit is konstante harde en nederige werk.”

En die grootste uitdagings wat hy al moes oorkom? “Om konstant in die publieke oog te wees.”

PJ is tans besig om saam met so ’n paar kunstenaars te werk aan spesiale projekte. Verder hou hy ook aan skryf aan nuwe musiek.

Een ding is egter seker – PJ se naam is blink goue letters geskryf – hou maar dié naam fyn dop!

Volg vir PJ Pretorius op sosialemedia:

Facebook, Twitter & Instagram

Vir meer inligting:

The Marketing Zoo – 012 004 0642

[email protected] / [email protected]

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui