fbpx
Bands for Bricks is ‘n mylpaal vir liefdadigheid en Suid-Afrikaanse musiek.

Bands for Bricks is ‘n mylpaal vir liefdadigheid en Suid-Afrikaanse musiek.

Hulle sê as jy wil teruggaan in tyd, luister na musiek uit vervloë dae. Bands for Bricks, wat op 14 Julie 2019 by die Sun Arena gehou is, het hierdie uitdrukking tot sy volle reg laat kom. Die gehoor is teruggeneem in tyd om treffers te herleef saam met dié musikante wat hulle liefgemaak het vir musiek.

Kyk, dit bly maar ‘n indrukwekkende prentjie as jy sien hoeveel musiekinstrumente die kunstenaars kan bespeel. Die verhoog was omtrent versier met verskillende dromstelle, klaviere, kitare en baskitare.

Verder was alles rondom die produksie van uitstaande gehalte – die klank, die beligting, die bands, die keuse van liedere – noem ‘n ding en daardie spyker is op die kop geslaan.

Die spyskaart was gevul met lekker musiekdisse.

Die wêreldbekende Ndlovu Youth Choir het seker gemaak dat die standard hoog gestel word. Hul verwerking van MY AFRICAN DREAM was net die regte lied om die program mee af te skop.

Ander kunstenaars het ou treffers na die verhoog gebring en ‘n mens kon die nostalgie in die lug aanvoel. 

Enigeen wat goeie, tydlose musiek ken, sou die “line-up” kon waardeer. Die gehoor is vermaak deur groepe soos Die Melktert Kommissie, Klopjag, Ddisselblom, Bottomless Coffee Band, Beeskraal en Tidal Waves.

Verder het kunstenaars soos Roan Ash, Appel, Anton Goosen, Valiant Swart, Hemelbesem, Joe Foster, Jan Blohm en Koos Kombuis seker gemaak dat geen treffer van hulle nié gehoor word nie.

Die skare was behoorlik meegevoer met treffers soos: 24 UUR, PROUDLY SOUTH AFRICAN, LISA SE KLAVIER, VALKENBURG, EYE SHADOW en talle meer. Jan Blohm het omtrent die stembande van die skare losgekry met GROEN TRUI – ‘n lied wat enige “old school” Jan Blohm-fan sonder die minste huiwering sal kan saamsing.

Gian Groen en Klopjag het omtrent harte aangeraak met hul duet-weergawe van VIER SEISOENE KIND – dié lied geskryf deur Gian Groen wat oor die jare volksbesit geword het.

Daar is ook hulde gebring aan Piet Botha wat onlangs op die ouderdom van 63 oorlede is. Jackhammer se musiek is versterk deur foto’s van Piet wat op groot skerms gewys is. Elke rocker, musikant en aanhanger kon só die kans kry om afskeid te neem van ‘n legende en ‘n meester.

Roan Ash, ‘n naam deesdae op almal se lippe, het sy treffer WHISKEY TO MY SOUL gesing en bewys waarom hy tans vrugte van sukses pluk.

Die talentvolle Bottomless Coffee Band het talle kunstenaars begelei met baskitaar, dromme, kitaar en agtergrondstemme, en het self ook ‘n oorspronklike nommer gesing. 

Anton Goosen het seker gemaak dat die dag op ‘n hoë noot afgesluit word met sy ou treffer SPOOK VAN UNIONDALE. Alhoewel dit ‘n solo moes wees, kon die gehoor nie anders as om luidkeels saam te sing nie.

Die instrumentaliste was uit die boonste rakke! Nie net het hulle gesorg dat die musiek ingekleur word nie, maar hulle het bygedra tot die volle omvang van die geleentheid en, ons moet bieg, deur selfs net na hulle te kyk, kon ‘n vertoning op sy eie gewees het.

Die dag is afgesluit met ‘n rock-medley wat deur Anton Goosen gelei is. Hiervoor was stoele nie nodig nie; feitlik geeneen kon sittend bly nie. Die item het liedere ingesluit soos BYEBOERWA en HARLEKYN.

Bands for Bricks is ‘n vertoning met ook ‘n groter doel. Geld is ingesamel om die hande van SA Cares For Life, Groot FM se Hoopstoot en Beeld se Kinderfonds te versterk. Onbaatsugtige borge het na vore getree om weereens te bewys dat dit beter is om te gee as om te ontvang.

Ons hoop regtig dat hierdie nie die laaste van sy soort is nie. Aan die spanne aan die stuur van die geleentheid – hartlik geluk met ‘n welverdiende sukses. Ons voorspoed vergesel julle vorentoe.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui