fbpx
Rise in Red stel langverwagte debuutalbum vry!

Rise in Red stel langverwagte debuutalbum vry!

RISE IN RED het bekendheid verwerf vir hulle inspirerende lirieke en ongelooflike verhoogpersoonlikheid. Vroeër vanjaar, het dié Bloemfonteinse alternatiewe rockgroep aanhangers opnuut beïndruk met die vrystelling van hulle nuutste enkelsnit, IN BETWEEN THE LINES, wat baie goed ontvang is en reeds speeltyd kry op verskeie radiostasies regoor die land.  

As gevolg van die lied se kragtige boodskap, is IN BETWEEN THE LINES ook gekies as die titel van die groep se langverwagte album wat pas vrygestel is en beloof om by gehore van alle ouderdomme aanklank te vind.

Die album, soos die liedjie, fokus daarop om hoop te bring ten spyte van die chaos wat tans in Suid-Afrika en die wêreld heers. Dit bied nie net ‘n moderne benadering tot rockmusiek nie, maar ook ‘n versameling van aangrypende klanke, deernisvolle lirieke en hope emosie wat direk met die siel sal praat.

Alhoewel die groep reeds sedert 2017 aan die CD werk, voel hulle dat dit die wag werd was.

“Ons het onmiddellik aanklank gevind by ons vervaardiger Stef Myburgh, omdat hy volkome verstaan het watter styl en klank ons vir die album wou hê. Met tye was dit ‘n uitdaging om die energievlakke hoog te hou en vir dae aaneen opnames te doen, maar ons het die meeste van elke oomblik gemaak,” meen Reynolds.

Die CD spog met elf oorspronklike snitte uit die groep se eie pen. Alhoewel daar ‘n groot verskeidenheid ritmes en genres op die album verskyn, werk die liedjiekeuses goed saam om RISE IN RED se musikale veelsydigheid doeltreffend ten toon te stel.  

Wanneer jy hulle vra om ‘n gunsteling snit te kies, erken die groep dat daar ‘n paar is. “PROGRESSION is amper vir ons soos ‘n stigtersliedjie en vertel meer oor ons reis, want om dié album ‘n realiteit te maak, was beslis nie maklik nie,” sê Reynolds. “Ons is ook mal oor IN BETWEEN THE LINES, omdat dit ons moderne styl beklemtoon en ‘n lekkerluisterwysie het. RISE UP is egter steeds ons gunsteling liedjie om lewendig op te voer, omdat dit ‘n baie intense energie het. Om ALRIGHT se musiekvideo op te neem, was hope pret, so dis regtig moeilik vir ons om net een snit uit te sonder,” erken Jayson.

Die groep hoop dat luisteraars die album sal geniet en dat dit vir hulle hoop sal bring. “Lewenservaringe en –vrae word in ons musiek aangespreek, maar die boodskap is ook dat daar altyd ‘n oplossing is vir die toekoms,” sê Reynolds.

Die titelsnit, wat geskryf is deur voorsanger Dustin McCrindle, is basies ‘n gesprek oor die lewe. “Die lewe het sy groeipyne, seer en ervaringe. Maar daarmee saam, is daar ook hoop en dit is wat ons met hierdie liedjie wil tuisbring. Ten spyte van die lewe se kinkels en pyn, is daar altyd hoop vir die dag van môre. Saam kan ons deur enigiets kom,” verduidelik die hoofkitaarspeler, Jayson Reynolds, oor die boodskap agter hulle nuutste vrystelling.

“Die liedjie verteenwoordig ook waaroor ons, as groep, gaan. Ons wil ‘n boodskap van hoop versprei en dit is ook hoekom ons hierdie lied as die titelsnit van ons nuwe album gekies het. Jy moet tussen die lyne lees om regtig te hoor wat ons wil sê,” voeg hy by.

Omdat die enkelsnit ‘n moderne, energieke wysie en universele boodskap het, val dit lekker op die oor en is dit beslis iets waarby oud en jonk sal aanklank vind.

Die groep het ook onlangs ‘n musiekvideo opgeneem en vrygestel vir In Between The Lines, wat aansluit by die boodskap dat die lewe se struikelblokke met die hulp van vriende oorkom kan word. “Die video begin waar ons saam stap. Soos wat die lewe maar gaan, breek ons soms weg van mekaar af om ons eie pad te volg, maar ons ontmoet weer aan die einde. Die boodskap is dat ons saam die hindernisse van die lewe kan kafdraf.”

Jayson verduidelik verder waar dié konsep vandaan kom en wat dit uniek maak: “Ons kom gereeld bymekaar om beplanning te doen en die idee vir die video is tydens ‘n dinkskrumsessie gebore. Ons het elkeen ‘n stukkie van die storie geskep en, in samewerking met die videograaf Llewellyn Lloyd van Reblex Photography, na unieke maniere gesoek om die boodskap te benadruk wat ons graag wou oordra. Verder is daar ook van baie interessante skote en hoeke gebruik gemaak om die finale produk ‘n regte rolprentgevoel te gee en perfek af te rond.”

RISE IN RED is in 2010 gestig deur Reynolds, McCrindle, dromspeler Jaco Novella en baskitaarspeler Kyle Bath. Die groep, wat bekendheid verwerf het vir hulle inspirerende lirieke en strelende klank, is hoofsaaklik begin as ‘n projek wat gemik was op liedjieskryf en –vervaardiging, maar teen 2015 het hulle dit reggekry om hul eie unieke styl te skep en begin fokus op lewendige optredes.

Sedertdien het hulle van krag-tot-krag gegaan en die verhoog gedeel met verskeie groot name, waaronder Prime Circle tydens hulle Let The Night In-toer en weer by Walter Sisulu Botaniese Tuine, asook AKING, Dan Patlansky en Francois van Coke. Pierre du Toit het in 2018 oorgeneem as baskitaarspeler.

“Die naam RISE IN RED is gekies omdat ons almal Christene is en daarop fokus om ‘n boodskap van hoop met ons musiek te bring. Dit pleit inderwaarheid by luisteraars om op te staan vir dit waarin hulle glo,” sê Reynolds.

Oor die jare het die groep baie hoogtepunte beleef, maar sonder die feit dat hulle onlangs aangesluit het by die gesogte publisiteitsagentskap, Starburst Promosies, uit as ‘n keerpunt in hulle bestaan.

“Ons het besluit dat ons ‘n meer aggressiewe benadering nodig het wanneer dit by publisteit en bemarking kom. Die regte verhoudings in die musiekbedryf is noodsaaklik en ander kunstenaars het ons aangeraai om Starburst Promosieste nader om ons met hierdie aspek van ons handelsmerk te help,” verduidelik Jayson oor hulle besluit om saam met so ‘n ervare maatskappy te werk. “Ons weet dat Starburst Promosies goeie verhoudings met radiostasies en die media het en voel dat dit is wat nodig is vir RISE IN RED se musiek om die regte ore te bereik. Ons is baie opgewonde oor die vennootskap en voel positief oor die groep se toekoms.

DIE MANNE AGTER DIE MUSIEK

Dustin McCrindle, hoofsanger en ritmekitaarspeler, is ‘n apteker wat daarvan hou om aktief te wees. Hy het begin kitaar speel as deel van ‘n kerk se jeuggroep toe hy veertien was en is sedertdien nog altyd betrokke by musiek. Dustin se lewensleuse is: ‘Alles het ‘n invloed’. “Ons kan tot op ‘n sekere vlak kies tot in watter mate ons gaan toelaat dat dinge ons beïnvloed, maar op ‘n manier sal dit wel ons opinies help vorm. Kies die dinge, media, mense en boodskappe waarmee jy jouself omring slim,” sê hy. Om musiek te skryf, is vir hom baie persoonlik. “Dit is nie altyd ‘n magiese oomblik van woorde wat in plek val nie, maar wanneer dit gebeur is dit lekker. Daar is niks soos ‘n sterk invalshoek om ‘n idee vir ‘n nuwe liedjie te prikkel nie.” Dustin glo dat musiek die vinnigste manier is om ‘n idee of boodskap te versprei. “Almal sal nie noodwendig ‘n goeie boek lees nie, maar ‘n goeie liedjie sal oor-en-oor deur die massas gesing word – dis beide skrikwekkend en ongelooflik.”

Jayson Reynolds, die groep se hoofkitaarspeler, besit ‘n webtoepassing- en handelsmerkbesigheid. Hy speel al kitaar vandat hy veertien jaar oud is en het sy kriekettoerusting verkoop om sy eie kitaar te kon koop. Op sestien het hy sy eerste elektriese kitaar gekry en haar Scarlett genoem. Sy is vandag nog een van sy gunsteling instrumente. Geloof is Jayson se hoofinspirasie in die lewe. “Vir my moet musiek ‘n emosionele verbintenis hê, so ek wil altyd liedjies skryf wat diep tref en emosie ontlok,” sê hy. Jayson glo dat dit nooit te laat is om oor te begin nie. “Alhoewel die lewe hoogtepunte en laagtepunte het – en die laagtepunte erg kan wees – is dit nooit te laat om oor te begin en te hoop vir ‘n beter toekoms nie.” Jayson, wie se pa ‘n vlieënier was, sien uit daarna om sy eie vlieglisensie te kry – “Ek dink vlieg is in ons gene!

Pierre du Toit is RISE IN RED se baskitaarspeler en ‘n fiksheidsinstrukteur wat sy eie gimnasium besit. Alhoewel fiksheid vir hom belangrik is, is hy lief vir musiek omdat dit vir hom ‘n kreatiewe uitlaatklep gee. Pierre was deel van verskeie musiekgroepe deur die afgelope twintig jaar en het al alle genres gespeel – van blues, rock en pop tot jazz – wat hom gehelp het om ‘n veelsydige musikant te word. Een van sy loopbaanhoogtepunte was om baskitaar te kon speel vir ‘n filharmoniese orkes. Vir Pierre is musiek skryf soos om te skilder. “My skilderdoek is musieknote en my instrument is die verfkwas,” sê hy. Dié musikant speel in sy vrye tyd ook graag saam met ‘n orkes wat 80’s musiek doen.

Dromspeler Jaco Novella is getroud en besit sy eie rekeningkundige firma. Buiten daarvoor dat hy dit geniet om ‘n entrepreneur en musikant te wees, sien hy ook opgewonde uit na die geboorte van sy eerste kind. Hy speel al dromme vandat hy vyftien is en is lief vir musiek omdat dit vir hom alle aspekte van sy lewe saambind. Jaco luister graag na metal- of punk-rockmusiek. “Dit is die tipe musiek wat ek nog my hele lewe lank geniet. My voorliefde vir rockmusiek is my inspirasie om as musikant te groei.” Sy lewensfilosofie is eenvoudig: “Vertrou op Jesus, want net Hy kan jou omstandighede verander.”

RISE IN RED is ‘n veelsydige rockgroep met ‘n unieke styl en emosiebelaaide lirieke wat diep tref. Saam met die groep se opbouende boodskap van hoop, sal IN BETWEEN THE LINES beslis aanklank vind by nuwe en bestaande aanhangers regoor die land.

Die album is nou op alle digitale platforms beskikbaar.  Kry dit hier:

Spotify:                spotify.riseinred.com

Apple:                   apple.riseinred.com

Deezer:                deezer.riseinred.com

YouTube:             youtube.riseinred.com

https://open.spotify.com/album/2bE8q7wdJ743f3eUbsYK5T?si=QM8Om84yTPqnjh8L2ye0Pw

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook
Instagram
Webblad: www.riseinred.com
SoundCloud  
YouTube

BESPREKINGS

E-pos: [email protected]
Sel: 083 257 4556 / 083 302 9204

PUBLISITEIT EN BEMARKING

Starburst Promosies
Alishia van Deventer
Sel: 083 635 4717
E-pos: [email protected]
Webblad: www.starburstmusic.co.za

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui