Emil Paul – HARTBEWING

Emil Paul – HARTBEWING

Wanneer jy ‘n hart en ‘n aardbewing saamsit, kry jy ‘n HARTBEWING! Dit is die gevoel van ‘n diepe liefde wat amper onbeskryflik is.

Emil Paul is geen onbekende as dit kom by musiekskryf nie. Hierdie enkelsnit kom uit sy eie pen en beskryf die vinnige hartklop en fisiese opgewondenheid wat plaasvind wanneer daardie warm gevoel van vlinders in jou maag verskyn – wanneer jy in die oë van iemand verlore raak.

“Om musiek te skryf en te komponeer is een van my gunsteling tydverdrywe. Dis iets wat ek deesdae ook selfs vir ander kunstenaars doen. In terme van my eie musiek, het ek ‘n reël vir myself gestel dat ek net musiek uitreik wat ek self geskryf het, asook waarvan ek deel was van die vervaardigingsproses.

Die enigste uitsondering op daardie reël dusver, was toe ek ‘n duet saam met Zanzi Africa, EEN KEER, vrygestel het. Die lied was oospronklik deel van haar album in 2015 was, maar ons het dit verlede jaar in ‘n duet omskep het.” vertel Emil.

Emil het tot op hede nog net ballades en liedjies wat oor hartseer onderwerpe handel geskryf en uitgereik. HARTBEWING breek daardie stigma en is ‘n vars lied wat oor die gelukkiger aspek van die liefde gaan. En hoe dan anders, want Emil het self onlangs die paadjie kansel toe gestap en trou beloof aan sy pragtige bruid, Tabea.

As jy vir Emil Paul vra wie hy is, antwoord hy: “Ek is ‘n 25-jarige fotograaf, sanger, liedjieskrywer en vervaardiger van Randburg. Ek is al my hele lewe lank omring deur musiek, maar het eers in 2016 as ‘n solo kunstenaar begin sing en optree.”

Emil werk tans voltyds in die ateljee as musiek vervaardiger saam met Hugo Ludik van Muse Studios. Musiek bly sy hoof passie en fokus alhoewel hy deesdae verkies om meer in die agtergrond van die bedryf te werk.

“Om te sing sal altyd ‘n liefde van my bly en ek sal steeds aanhou om elke nou en dan ‘n enkelsnit uit te bring.” voeg hy by.

Emil het in seisoen 3 van die bekende tv-reeks, The Voice South Africa, deel gevorm van Francois van Coke se span, waarna hy sy debuut album, BEGIN NET OOR, uitgereik het. Die album spog met bekende enkelsnitte wat verskeie trefferparades bereik het.

Die enkelsnit, JOU FOTORAAM, ‘n duet saam met Samantha Leonard (deelnemer van Die Kontrak) is ook te hoor op die album.

“In terme van my eie musiek, beplan ek nog een of twee enkelsnitte as solo-kunstenaar, maar my fokus lê tans op ‘n nuwe Afrikaanse duo waarvan ek deel uitmaak. Die duo sal in 2023 bekendgemaak word (meer as dit mag ek op hierdie stadium nie sê nie)”.

Emil se enkelsnit, HARTBEWING, sal vanaf 23 September 2022 op alle digitale platforms beskikbaar wees en ‘n musiekvideo kan ook verwag word op 7 Oktober 2022.

Luister na die HARTBEWING hier: https://music.apple.com/za/album/hartbewing/1644235788?i=1644235789

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram

LEES MEER

Emil Paul terug met sy eerste Engelse enkelsnit

Emil Paul en Samantha Leonard span kragte saam.

Emil Paul BEGIN OOR met sy debuutalbum