JP White terug met HIER IN MY HART

JP White terug met HIER IN MY HART

JP White is terug met sy nuutste enkelsnit, HIER IN MY HART, nadat sy album VERSLAAF in Julie 2019 vrygestel is.

JP sê dat hy ontsettend trots is op die nuwe vrystelling. Hy wil graag mense gelukkig maak met die lekker vinnige ritme en diep lirieke van HIER IN MY HART. Een van sy grootste wense is om almal te laat glimlag en die liefde in hulle harte te laat voel.

Hier in my hart JP White

Alhoewel dit ’n goedvoel liedjie is, het HIER IN MY HART ook ’n dieper betekenis. JP sê dit gaan oor daardie een persoon wat waarlik vasgevang is in jou hart, die een waaraan jy elke sekonde van elke dag dink. Hoe hierdie persoon dinge doen wat jou asem elke keer wegslaan, en jou net meer en meer wil laat hê. Daardie goed wat jou laat glimlag vir geen spesifieke rede nie.

JP voel hierdie mooi sprokiesverhaal van twee geliefdes wat mekaar se aandag en saamwees geniet, sal baie harte aanraak.

JP kan spog daarmee dat hy met sy liedjie VERSLAAF vir die Aitsa Afrikaanse Musiektoekennings 2019 genader is, iets wat sy loopbaan ’n groot hupstoot gegee het.

JP glo as dit die Vader se wil is, sal HIER IN MY HART ook vir hom nuwe deure oopmaak en ’n nuwe begin verseker ná die moeilike omstandighede van die COVID-19 pandemie wat ons almal aangeraak het.

Hy glo en hoop in sy hart dat ons almal verby al die negatiewe van 2020 sal kan kyk en sien dat daar wel lig is na die donker tyd wat ons tans beleef.

Soos ons vir JP White ken vanaf sy vorige album (met treffers wat insluit: VERSLAAF, EEN UIT ’N MILJOEN, LEKKER TIPE OU en TWYFEL) is HIER IN MY HART ’n splinternuwe begin vir hom.

SOSIALE MEDIA:

Facebook