fbpx
Mari Bosman – MEER

Mari Bosman – MEER

Mari Bosman se lied MEER sal jou opnuut laat dink oor die belangrikheid van innerlike skoonheid.

Sy het ‘n melancholiese Lindt-sjokolade stem. ‘n Knertsie Laurika Rauch en ‘n knippie Sheryl Crow. Maar eintlik is sy net Mari Bosman, wat met haar kitaar en haar liriekgedrewe musiek die musiekbedryf so vinnig soos die koronavirus binnegewoer het.

Nou is dié sangeres, wat met vele titels soos ‘n BSc-graad en onderwyseres agter haar naam spog, terug met ‘n spiksplinternuwe enkelsnit MEER, wat sy tydens die grendeltydperk neergepen het.

Mari Bosman MEER

MEER, sê sy, gaan oor die soeke na die innerlike mooi in iemand, eerder as slegs die uiterlike. Die soeke na ‘n dieper konneksie.

Sy het vier jaar gelede met haar album, Skakerings, gedebuteer en het sedertdien op radiostasies se trefferparades geboer, selfs die Coleske-gebroeders het een van haar liedjies op ‘n kompilasie-album Country is GROOT geplaas, en sy het Laurika Rauch-huldeblykkonserte gedoen wat die media laat snik-huil het.

Tot die legende Laurika was kopknikkend-tevrede met Mari se vertolking van haar liedjies. “Sy het na die aanlynvertoning, wat sy bygewoon het, ‘n beautiful WhatsApp gestuur en gesê hoe sy die huldeblyk waardeer het. Dit was nogals uitdagend om haar liedjeis te vertolk, maar ek het elke oomblik daarvan geniet. Dit is die genre waarvoor ek die liefste is.”  Musiek en liriek..

Tog is sy nie net ‘n Laurika Rauch-nasanger nie. Haar liedjies, wat sy self skryf, spreek van diepte. Sy sê hieroor: “Ek sal sit en kitaar speel en dan sal die melodie in my kop begin draai. Sonder moeite, sonder baklei, sonder spasie. Sommer net. Die melodie bepaal die woorde.”

Die media verwys gereeld na haar as ‘n jonger weergawe van Laurika.. “Dit is ‘n baie groot eer om met haar vergelyk te word. Ek wil net soos Laurika tydlose musiek maak wat sal bly, eerder as ‘n verbygaande treffer.”

MEER is so ‘n tipe ballade, ‘n melodie wat in jou kop vassteek, wat jy sal neurie en fluit. ‘n Liedjie wat nie in die argiewe van tyd gaan beland nie.  MEER, sê sy, is nie ‘n gewone liefdesballade nie. “Ek beskou dit as ‘n liedjie oor die lekkerte om iemand werklik te leer ken, om verlief te raak op meer as wat die blote oog kan sien.”

Soos die lirieke  … almal soek ‘n deksel met ‘n pot wat by die reënboog stop… is ‘n goeie beskrywing van liefde wat ‘n mens so lank ontwyk.  Hoewel sy nog nie iemand het wat haar hartsnoere roer nie, glo sy dat die “liefde mooi is en die sterkste krag is wat bestaan.”

Sy beskryf haar musiek as rooiwyn-rock – en dit is ook hoe ‘n mens MEER kan beskryf – iets soos Roodeberg- waarvan daar nog lank ‘n nasmaak in jou mond gaan wees. Mari is ‘n vonds in die Afrikaanse musiekbedryf en ‘n mens hoop dat haar naam – net soos die van Laurika – in die musiekgeskiedenis verewig gaan word.

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram