fbpx
Muller Brandt reik album uit – BRAND DIE SKEPE

Muller Brandt reik album uit – BRAND DIE SKEPE

Na twaalf jaar in die musiekbedryf, het die gewilde sanger en liedjieskrywer – Muller Brandt – uiteindelik die voorreg om sy langverwagte debuut-album met Suid-Afrikaners te deel.

BRAND DIE SKEPE is ’n volbloed Afrikaanse album wat spesiaal saamgestel is om jou op reis te vat deur verskeie emosies; van diep betekenisvolle snitte wat die hartsnare prikkel tot lekkerluister-saamsingliedjies wat jou voete sal laat jeuk om te dans.

Die eerste snit op die album, met dieselfde naam (Brand Die Skepe) word ook vandag uitgereik, tesame met ‘n musiekvideo wat vervaardig is deur AJP Media House en in Stilbaai geskiet is.

“Ek droom al lank daarvan om ’n album uit te reik en wou iets skep wat eg is aan wie ek is en die tipe musiek wat ek maak,” vertel hy. “Die titelsnit is baie persoonlik vir my, omdat die boodskap daaragter my storie so mooi uitbeeld.” 

Volgens dié musikant lê elke snit wat hy vir die album gekies het hom na aan die hart. “Ek het die volgorde van die lys van snitte spesiaal gekies volgens die energie van die liedjie, om die perfekte luisterervaring te skep. Verder was dit vir my belangrik om gemaklik te wees met elke snit wat op die album verskyn. Ek glo dat ’n goeie liedjie goed moet klink sonder produksie, so as ek op hom op die kitaar kan speel, sonder elemente, en dit klink lekker het ek dit opgesit.”

Die grootste deel van die inhoud, is deur hom en Jattie de Beer geskryf, maar hulle het ook saam met Riaan Benadé, Marno van der Merwe en Jako Meyer gewerk.

Buiten vir sy eerste enkelsnit, Moedertaal, wat onlangs vrygestel is en ongelooflik goed ontvang is, meen hy dat Braaibroodjies ook die potensiaal het om baie gewild te wees onder diegene wat hou van lekker kuier.

“Die album is anders want dit is ek! Ek het natuurlik invloede en mense wat my inspireer, maar ek en Jattie de Beer het dit reg gekry om my klank te kry en op te neem. As jy die album luister kan jy uitsien na 100% Muller Brandt,” sê hy. 

Muller Brandt het in Pretoria grootgeword. Sy pa se liefde vir country-musiek het sy passie vir sing laat vlam vat en hy het nog nooit afgewyk van sy droom om ’n voltydse sanger te wees nie. 

Dié dertigjarige kunstenaar meen dat Theuns Jordaan die grootste invloed gehad het op sy eie styl, maar vind ook aanklank by musikante soos Kris Kristofferson, Johnny Cash, Elvis Presley, Boney M, Bryan Adams, Bon Jovi, John Mellencamp, Neil Diamond en Luke Combs.

Hy is reeds besig is om liedjies bymekaar te maak vir sy volgende album, maar vir nou werk hy eers daaraan om sy huidige een te bemark en ’n landswye toer te beplan.

“Ek wil hê die luisteraar moet saam my kan lag, huil en dans. BRAND DIE SKEPE bied ’n lied vir elke emosie en geleentheid,” sluit hy af.

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram, YouTube

LEES MEER

Muller Brandt – MOEDERTAAL

Leer ken vir Mighael en Muller en hou die twee dop