fbpx
Nadia Vorster is geanker in hoop.

Nadia Vorster is geanker in hoop.

Nadia Vorster is opgewonde om haar nuwe enkelsnit GEANKER IN HOOP vry te stel. GEANKER IN HOOP is vir Vorster soos ʼn lewenskreet met die sterk boodskap dat daar altyd hoop is in Christus.

Sy verduidelik dat sy, soos die meeste mense, deur ʼn klomp moeilike goed moes werk. Die lied is spesiaal vir haar geskryf deur Tania Meyer en is gebaseer op Hebreërs 6:19.

Te midde van al die storms in my lewe was daar altyd hoop dat daar ʼn dag sou kom wat my hart weer sou lag, en vandag kan ek my storie vertel om ander deur soortgelyke storms te help,” sê Vorster.

Sy glo dat mense aanklank sal vind by GEANKER IN HOOP omdat die lewe met mense gebeur en ons soms herinner moet word dat daar steeds hoop is.

Vorster voel dat kinders van die Here sukkel om oor werklike kwellinge en moeilike situasies te praat en sy hoop dat die lied geleenthede sal skep waar mense openlik kan gesels.

Ek het hierdie lied gekies as my volgende vrystelling omdat ek gereed is om reguit oor hierdie dinge te praat. Ek moes eers deur sekere prosesse werk sodat ek hieroor kan gesels en sing,” verduidelik sy.

Vorster het grootgeword in ʼn Christelike huis waar beide haar ouers musikaal was en in die kerk gesing het. Haar oorlede pa was ʼn sanger en ʼn predikant. Sy onthou hoe sy van kleins af soos Tannie Carike wou wees en sy sing al haar hele lewe lank.

In 2014 het sy ʼn huldeblykalbum opgeneem vir haar pa, en in 2015 is haar eerste enkelsnit vrygestel. Die sangeres Corlea Botha is ʼn groot inspirasie vir haar en sy droom daarvan om eendag iets saam met Riana Nel te skryf en te sing.

As dit by Internasionale Kunstenaars kom, vind Nadia graag by Lauren Diagle inspirasie. Sy het ʼn lieflike sopraanstem en haar inspirerende musiek kan beskryf word as ʼn kombinasie van country, pop & rock klanke.

Vorster is bedags ʼn finansiële bestuurder in haar man se besigheid. Haar begeerte is om meer gereeld te bedien, om mense te inspireer en te help wat deur moeilike omstandighede gaan. Sy werk tans aan haar volgende enkelsnit VEG OF VLUG wat ook ʼn musiekvideo insluit.

SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook, Instagram, Twitter

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui