fbpx
Cordis Trust, Petronel Baard bied gratis aanlyn vertoning

Cordis Trust, Petronel Baard bied gratis aanlyn vertoning

Digkuns- en musiekliefhebbers kan op Sondag, 25 Oktober, om 19h00 op Cordis Trust of Petronel Baard se Facebookblaaie of op YouTube inskakel vir ’n gratis virtuele vertoning wat hulle nog vir lank sal onthou.

WOORDPALET, ’n pragbundel van al die talentvolle skrywer – Mardene Marais – se skryfstukke saam met die kunswerke van onder andere Vader Claerhout, was die Cordis Trust (toe Mardene Marais Gedenktrust) se eerste publikasie en is uitgegee na haar afsterwe in 1989. 

Petronel Baard

As gevolg van hierdie bundel, is die volwaardige Cordis Trust gebore wat oor die jare vir verskeie publikasies van kunsstemme ’n kunspalet geword het. 

Uit die hart van een, het meer skrywers dus die geleentheid gekry vir publikasie en meer stemme die geleentheid om gehoor te word.

Die trust en betrokke partye is konstant besig met bewusmakingsveldtogte vir die kunste, waarvan WOORDPALET een is.

Petronel Baard se Lang Vrou Produksies het hierdie aanbieding saamgestel in vyf afdelings rondom Mardene se siening van “Liefde”, “Geluk”, “Vrees”, “Die Dagbreek” en laastens “Die Son” vanuit die boek.

Hierdie vertoning bestaan uit voorlesings deur die akteurs, Carel en Petru Trichart, toonsettings van die opwindende digkuns en musiek deur Deniel en Frazer Barry én Steffie le Roux, asook puik verwerkings deur die klassieke sanger Lisa Lorenz en Petronel self. Die aanbieding word gekombineer met werke van Vader Claerhout wat deur Mardene se werk geïnspireer is.

“Ons het die musiek verwerk in uiteenlopende style, beloof dat dit iets vir almal sal inhou en dat die voortreflike voorlesings gehore nog lank sal bybly,” sê Petronel wat ook betrokke was by die vorige aanlynvertoning genaamd Sonstorie wat in Julie vanjaar uitgesaai is.

Dié veelsydige musikant en liedjieskrywer het al ses albums en verskeie treffers (soos Life is Good en Akkerblare) op haar kerfstok, waarvan haar debuut-album, Lank Al, benoem is vir ’n SAMA en twee Geraas-musiektoekennings. Sy werk tans voltyds saam met Cordis Trust om Afrikaanse kuns en kultuur te bevorder en is die eienaar van Lang Vrou Produksies wat toneelstukke vervaardig.

Cordis Trust se doel was nog altyd om Moedertaal-vermaak te bevorder deur vir kunstenaars die geleentheid te gee om hulle passie en talent met die publiek te deel. WOORDPALET is weereens ’n bewys van die ongelooflike skryf- en musiektalent en akteursvernuf wat ons land het om te bied en is maar net ’n druppel in die emmer van wat hulle beplan vir die toekoms.

Vir meer inligting oor die vertoning en trust, besoek www.cordistrust.co.za.

SOSIALEMEDIASKAKELS

PETRONEL

Facebook, Twitter, Instagram

Webblad: www.petronelbaard.com

YouTube: https://www.youtube.com/channel/UCKZN7LSwYxmt1wK9I6PgXBA

SoundCloud:  https://soundcloud.com/petronel-baard

CORDIS TRUST

Facebook

Webblad: www.cordistrust.co.za

LEES MEER

Petronel Baard vier die lewe!

Petronel Baard se Heelal hou net aan met draai …

Petronel Baard stel nuwe musiekvideo bekend

Gavin Jay ft. Petronel Baard – Seek the Light!

Petronel Baard vier 21 jaar in die musiekbedryf!

Petronel Baard bied gratis aanlyn-vertoning.