fbpx
Marius Lubbe breek MURE

Marius Lubbe breek MURE

Die Centurion-sanger Marius Lubbe het die afgelope jaar sy plek in Suid-Afrikaanse musiekliefhebbers se harte losgesing. Sy lekker-ou-maat persoonlikheid en sy goedvoel-popstem, is die perfekte pasmaat vir sy nuutste enkelsnit MURE.

MURE is vars en modern en is opgewekte dansmusiek wat ons sommer vining uit die grendeldepressie sal skud.  Die liedjie laat ‘n mens dink aan die goeie ou dae waar jy tot laatnag kon skoffel-skoffel, sonder maskers, sonder vrese dat Uber jou nie voor die aandklok dong sal kan oplaai nie.

Marius Lubbe - Mure

MURE, wat uit Vaughan Gardiner se pen verskyn het, is ‘n warm, blits popliedjie wat goed verwoord word in die koorgedeeldte: “…breek die mure af, kom ons raak laf… laat die mure val, kom ons raak mal…”

Ja, ons wil dáárdie mure wat ons al langer as ‘n jaar vaskluister laat val, maar as ons dit nie nou in kroeë of kuierplekke kan doen nie, kan ons maar na dié liedjie luister en ons huise se mure laat val…

En dit is presies ook wat die liedjie vir Marius beteken: “Daar is soveel dinge wat nou in die wêreld aangaan; Covid-19, oorloë, politieke onstabiliteit, protesoptogte en woede teenoor regerings en die mensdom. Dit is dinge wat ons almal besig hou en spanning veroorsaak.

“Ons hardloop rond; van die een plek na die volgende, sonder om regtig af te skakel. MURE moet aan luisteraars die geleentheid bied om net af te skakel en om saam met familie en vriende te kuier. Dit moet mense motiveer om die spreekwoordelike mure af te breek en om uit hulle grendelsones te klim. Geniet net die lewe en hou op om paniekaanvalle te kry oor dinge waaraan jy niks kan verander nie.”

Marius, wat bedags as IT-konsultant werk, het die musiekbedryf verlede jaar amptelik as solo-kunstenaar betree in ‘n tydperk waar musikante juis níé voor groot skares kon optree nie.  Tog is sy eerste enkelsnit, DIS WAT SAAK MAAK, goed deur plaaslike radiostasies en luisteraars ontvang.

Nadat die streng inperking gelig is, het Marius begin om by troues, funksies en kuierkroeë op te tree. En al wat die kuierpêlle kon sê: “My ou, dit is lekker musiek.” Marius se muisek voer veral die dertig- en veertigplussers terug na die vroeë 2000  toe popsangers soos Nicholis Louw en Fredi Nest verhoë regoor die land vuurwarm gepop het. Popmusiek op sy beste…

Marius beskryf homself as ’n openhartige mens met ’n groot passie en liefde vir musiek. Dié talentvolle sanger sing  vandat hy ses jaar oud.  Na hy op skool deel was van ’n solo-sangopleidingsprogram, het hy geweet dat hy bestem was om op die verhoog te wees en het hy aan al wat ’n konsert en kompetisie is deelgeneem.

Sedertdien het hy al verskeie vertonings op sy kerfstok en vind hy dit steeds baie terapeuties om sy musiek met gehore te deel. Die kunstenaar geniet ’n wye verskeidenheid musiek, maar sonder ADAM uit as sy grootste inspirasie. Hy verklap ook dat hy graag ’n onderwyser sou wou word as hy nie kon sing nie, omdat hy dit nog altyd geniet het om met mense te werk.

Marius het verlede jaar sy BCOMP-graad in Inligtingstegnologie voltooi en sy groot droom is om binnekort ‘n vollengte album op te neem. Die musiekbedryf het hom  geleer dat harde werk, respek en nederigheid baie belangrike bestanddele is as jy graag sukses wil bereik. 

MURE is nie net die resultaat van die werk en passie wat hy reeds in sy loopbaan belê het nie, maar is ook een van dáárdie liedjies wat jy in die stort gaan sing, in jou motor gaan skreeu en in die kantoor gaan fluister.

SOSIALEMEDIASKAKELS:
FacebookInstagram

Lees meer:
Marius Lubbe maak sy debuut – DIS WAT SAAK MAAK
Marius Lubbe stel eerste musiekvideo vry!