fbpx
Valeska deel haar hart met nuwe enkelsnit!

Valeska deel haar hart met nuwe enkelsnit!

In moderne tye, is dit maklik om duisende kennisse op sosiale media te hê. Dit is egter net ware vriende, wat jou hart ken en regtig omgee, wat bereid sal wees om deur dik en dun by jou te staan. Valeska Muller se splinternuwe enkelsnit gaan oor dié handjievol mense wat regtig saak maak.

DAAR WAAR ONS STAAN is ’n polsende elektroniese popsnit wat dit regkry om die vrolikheid van vriendskap vas te vang. Dis ’n spanpoging deur die sangeres en haar vervaardiger, BIGG-T, wat haar strelende stem, die opregte lirieke en ’n meesleurende wysie perfek kombineer om ’n merkwaardige eindresultaat te skep.

“Hierdie lied gaan oor vriendskap. Ware vriende, wat verby jou foute kyk en jou onvoorwaardelik aanvaar en liefhet vir wie jy is,” verduidelik die kunstenaar. “My vriende verskil almal hemelsbreed en is so uiteenlopend soos die klere in my kas. Al is hulle van verskillende ouderdomme en agtergronde, het elke een ’n spesiale plek in my hart.” 

Fotokrediet: Willem Botha

Valeska vertel dat grendeltyd haar veral laat besef hoe kosbaar die vriendskappe in haar lewe is en daarom glo sy dat hierdie snit definitief by luisteraars sal aanklank vind. “Ons het almal vriendskap nodig. Dit beteken baie vir my as iemand opreg in my belangstel sonder om iets in ruil te verwag. Ek is dankbaar vir al die ongelooflike vriende en vriendinne in my lewe,” sê sy.

Volgens BIGG-T is daar nie nog ’n liedjie in Afrikaans wat soos hierdie een klink nie en is die boodskap baie relevant. “Toe ons dit geskryf het, was daar nog nie COVID-19 gewees nie. Die lirieke is egter baie gepas vir die tye waarin ons tans leef, omdat dit jou gerusstel dat jy nooit alleen is nie en dat daar altyd iemand sal wees as jy hulp nodig het.”

DAAR WAAR ONS STAAN volg in die voetspore van haar vorige enkelsnit, Naby My Naby Jou, wat uitstekend ontvang is en vir weke lank op die treffersparades van verskeie radiostasies gepronk het. Die pragtige musiekvideo, wat oudergewoonte deur Saint Nic Media vervaardig is, kan ook steeds op die kassie gesien word. Beide snitte vorm, saam met haar vorige treffers: Verlange van JouSkyn Jou Liggie Vir My en Verdwaal Saam Met Jou, deel van haar album – My Simfonie – wat hier aanlyn beskikbaar is:  https://orcd.co/bgglpq9

Valeska, is geensins onbekend nie en buiten vir die feit dat een van haar liedjie as temalied van die program, ’n Ster Vir My Bed, op Via TV gebruik is het sy al talle hoofrolle in verskeie verhoogproduksies, asook televisieprogramme soos Binnelanders, Generations en Roer Jou Voete gehad. Sy is al negentien jaar in die musiekbedryf doenig en besig haar eie musiekskool, Valeska Muller Vocal Academy (VMVA).

Tydens die afsonderingstydperk het sy besig gebly met selfoonklasse vir haar studente, aanlynvertonings, radio-onderhoude, kosmaak, Netflix-kyk, video-oproepe met vriende en hope oefening. Sy het nog baie planne vir die toekoms, maar vir nou fokus sy op die bemarking van haar nuutste enkelsnit en om positief te bly oor die toekoms. 

“Mense dink, oor die algemeen, dat dit maklik is om ’n sanger te wees. Dit is ongelukkig nie waar nie en dikwels is dit ’n gejaag tussen opnames en optredes. Valeska weet egter waaroor dit gaan. Sy doen waarvoor sy lief is en ek het geen twyfel dat die toekoms nog baie vir haar inhou nie,” sluit BIGG-T af.

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook
Instagram
Twitter
TikTok

Lees meer:
Valeska vang fases van verliefdheid vas in haar nuwe musiekvideo
Valeska Muller het die wêreld aan haar voete
Valeska Muller bekoor met emosiebelaaide liefdesballade.
Valeska Muller verskuif Afrikaanse musiekgrense!